SOS ondersteun onafhanklike eksamenrade
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) ondersteun onafhanklike eksamenrade aangesien dit ʼn grondwetlike reg is om sulke rade te skep, hulle in die meeste gevalle meer geloofwaardig as die nasionale senior sertifikaat (NSS) is, en ook ʼn vergelykende maatstaf vir die standaard van assessering bied.
Die SOS se Hoof van Ontwikkeling, Melanie Buys, sê die ‘Independent Examination Board’ (IEB) kan ten minste hulle standaard en die vertroulikheid van hulle vraestelle waarborg, met baie minder aanpassings van punte, in teenstelling met die NSS. “Mense wie se kinders in onafhanklike skole is, betaal belasting en is ook burgers van die land, en kan daarom ook aanspraak maak op sekere dienste van die staat – in Umalusi se geval, minstens teen billike tariewe.”
Die LUR vir Onderwys in Gauteng, Mr. Panyaza Lesufi het in `n oningeligte verklaring teenoor die IEB uitgevaar. Die meeste onafhanklike skole in SA word sonder winsoogmerk bedryf en poog om gehalte onderwys te verseker in geografiese, taal-, geloofs- of kultuurgemeenskappe waar dit nie deur die staat voorsien word nie. Die IEB lewer waardevolle diens aan hierdie skole.