SOS eis steeds verantwoording by DBO oor matriekeksamen
Die herskryf van die tweede Wiskunde en Fisiese Wetenskap-vraestel is deur die hof tersyde gestel. Dit beteken nie dat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) nou hierdie saak as afgehandel moet beskou nie.
Die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum (SOS) eis steeds ʼn dringende en volledige ondersoek na die uitlek van die onderskeie vraestelle en verantwoording van die relevante rolspelers, naamlik die DBO en die oortreders wat die oorsprong was van die uitlek van die vraestelle.
Die SOS se hoof van Ontwikkeling, Melanie Buys, sê die geloofwaardigheid van Suid-Afrika se matriekeksamen is steeds die belangrikste aspek wat aangespreek moet word. “Tydens die hofverrigtinge het die DBO slegs ʼn voorlopige ondersoekverslag aan die hof voorgehou en dit wil voorkom asof die DBO deur die herskryf van vraestelle ʼn volledige ondersoek wou probeer systap.” Gebreke in die stelsel moet uitgeskakel word sodat daar in die toekoms nie weer enige kans is vir ʼn herhaling van dié fiasko nie.
Die SOS wil voorts die voorstel op tafel plaas dat skole in die toekoms ʼn keuse kan uitoefen oor watter eksamenliggaam hulle wil gebruik om hul eksamens te reguleer.